Op sy immer verfynde, doodgewoon eenvoudige tog diep spirituele manier antwoord Tobie Cronjé op ʼn vraag: “Ek sou verheldering wou bereik.”
Miskien is dit nie die volle waarheid nie, miskien is daar ook ander fasette van die reis na binne, die soektog na begrip, na betekenis, maar waarskynlik is dit ten laaste die beste verduideliking van hoe mens sou moes word aan die einde van ʼn lewe, ʼn beroep, ʼn speelvak dalk? Verheldering – die gawe wat ʼn goeie akteur bring aan sy of haar gehoor. Die insig in ʼn eie lewe soos gesien deur die akteur se interpretasie van die dramaturg se woorde en die regisseur se leiding. En wanneer die drie dinge kohesief saamwerk, dan kry jy dit weer: verheldering.
Om weekliks deel te word van Impresario se dokumentering van die Afrikaanse teatergeskiedenis bring mens by ʼn besef van die kanniedood gees wat hierdie volk nog steeds ʼn Mag maak om mee rekening te hou. Nie net deur in beelde aan te dui hoe beide toneel en filmwese hier gegroei het in so ʼn kort tyd nie, maar ook deur die kyker van vooraf bewus te maak van die baie buitengewone stories wat vertel word, oor die rykheid van mense in ons land: oor hul oorloë, of geloof, hul verlies of oorwinnings hul uithou en aanhou teen alle oordeel in. En oor hul liefde vir hierdie land, selfs die wat hom verlaat.
Dat so min mense weet van hierdie venster op die Afrikanervolk in sy ware hoedanigheid is miskien nie so onverklaarbaar nie. Dis dalk deel van die mea culpa negatief waardeur ons gegesel moet word. So asof ons nie die reg het om trots te wees op die groot geeste in ons verlede nie – nevvermaaind die hede. Dit verstom my dat hierdie program afgewater is tot ʼn skamele halfuur op die dooie kyk tyd van ʼn Sondagaand tussen wat ook al en Jukebox en dat die enigste bemarking dié is wat deur akteurs en bowenal Impresario se eie produksiespan gedoen word. Ek sou wou hê dat vliegtuie met baniere vlieg, dat elke taxi, bus en trein, baisikel of woestynkameel die legende dra, dat Impresario aangeteken staan op rugby stadions waar dit die heeltyd afwissel met name van relevante produksies wat tans iewers (liefs oral) speel.
Ja speel, ek verkneuter my dikwels aan die feit dat akteurs en sportlui al mense is wat speel; hulle wat veel harder ‘werk’ as die deursnee ‘werker’ van watter aard ook al. Stel jou voor kantoorwerkers repeteer heeldag (of nag) hoe om die aksies perfek uit te voer, die telefoon met goeie projeksie in verstaanbare Afrikaans te beantwoord en te weet wat ‘the show must go on’ beteken . Of dat enige ander ‘werker’ deur geheel het volk verguis sal word as sy die stempel wat sy op die papier moet ‘druk’ net so effentjies oor die kantlyn druk. Of as hy mik vir die opening en dan skeef verby sy eie spesifieke pale stuur? Natuurlik verdien spelers geld vir hulle spelery, veral rugbyspelers. Maar toemaar, atlete verdien applous wat hoeka tot in die hemel gehoor kan word, want hulle verhelder die hartseer en wys die mensdom sy eie dieptes of vlaktes …
Ek kan my voorstel dat hierdie reeks ʼn noodsaaklike onderafdeling kan word van enige teateropleidingsfasiliteit. Dis goed vir kunstenaars om te sien waar hulle storie begin het, maar dis ook goed om die woorde te hoor wat jou as kyker soms laat regop sit; iets soos om verheldering te bereik en dan te wonder of dit iets is wat mens vir jouself sou kon waar maak.
Die Afrikaanse Teater- en Filmwese het dikwels in die verlede daardie momente van verheldering gebring; Impresario bring dit opnuut elke Sondagaand om 20:00 op Kyknet. Dit word herhaal op Maandae om / op Dinsdae om / op Woensdae om / op Donderdae om / op Vrydae om / op Saterdae om maar dan meng dit natuurlik weer in met die spelers op daai ander veld.
Asseblief mense gaan kyk tog net, en neem dan deel aan die Groot Gesprek oor Teater/toneel/musiek/sports (of sport as jy wil maar moenie my oorneem nie want rugby het in die land genoeg speelruimtes☺
(word vervolg)
Geen opmerkingen:
Een reactie posten